Na die sukses van die vorige “Boer Soek ‘n Vrou” seisoene, maak ons weer so! Niemand is gemaak om alleen te wees nie, so ons nooi jou uit om deel te neem aan "Boer soek ‘n vrou 18". Ontmoet ons 10 sexy, energieke en avontuurlustige boere. Kyk of een van hulle dalk jou oog vang! As die stilte en die natuurskoon van ‘n plaas jou roep, as jy graag ‘n boer aan jou sy wil hê, is hierdie dalk net die geleentheid vir jou! Die “Boer soek ‘n vrou 18” seisoen sal bestaan uit 15 een uur episodes, voorafgegaan deur insetsels wat op kykNET uitgesaai sal word wat die boere bekendstel sodat hulle potensiële metgeselle kan werf. Foto’s van ons 10 boere kan gesien word op die volgende webblad: www.kyknet.tv asook op die Boer soek ‘n vrou Facebook- blad.
DIE INSKRYWINGS SLUIT 4 DESEMBER 2025.
Heg asseblief die volgende inligting by die Inskrywingsvorm aan:
-
2 onlangse kleurfoto’s van jouself - 1 portret (kop en skouers) en een vollengte foto asseblief.
-
‘n Afskrif van jou ID dokument of paspoort (net om te bewys dat jy ouer as 21 jaar is).
-
Skryf ‘n brief aan die boer van jou keuse waarin jy vir hom/haar vertel watter eienskappe jy soek in jou ideale pasmaat en gee ‘n kort beskrywing van wie jy is (lewenskets) en waarvan jy hou (manier van lewe en stokperdjies). Gee ook ‘n kort beskrywing van jou ideale romantiese afspraak. As jy ‘n mooi liefdesbrief skryf, gaan dit meer gewig dra by die boer van jou keuse. Alle briewe en geskenke wat ontvang word, sal deur die vervaardigers aan die boere oorhandig word.
-
‘n 10 sekonde selfie-video, om jouself voor te stel (slegs vir kantoor gebruik)
-
‘n Kort selfoon video van jouself (opsioneel), met ‘n spesiale boodskap aan jou gekose boer – nie langer as 1 minuut nie. Geen MUSIEK en geen PERSOONLIKE INFORMASIE in die video nie! (bv. Naam, van, adres, werk, ens)
-
Albei video’s kan aan MONIQUE gestuur word op whatsapp - 079 614 2229
-
‘n Geskenk-pakkie aan jou gekose boer kan gekoerier word na: “Boer soek ‘n Vrou 18”, 11 Coronation Avenue, SOMERSET-WES, 7130, of na PostNet CIRCLE CENTRE 211, Privaatsak X15, SOMERSET-WES, 7129.
Jy moet ongetroud en ouer as 21 jaar wees. Indien jy geskei of ‘n weduwee is, moet ‘n afskrif van die skeidokument of sterftebewys aangeheg word. Vorms wat nie onderteken is nie, of wat geen foto’s of ID dokumente of briewe insluit nie, sal nie oorweeg word nie. ONTHOU, jy mag net vir EEN boer inskryf.
Indien jou aansoek suksesvol is, sal ons jou voor 7 JANUARIE 2026 per telefoon kontak.
Kontak MONIQUE by Wolflight Films indien jy enige verdere inligting nodig het by: 079 614 2229, of epos haar by boer@wolflightsa.com
Aangesien “Boer soek ‘n vrou 18” ‘n realiteitsreeks is, sal die gekose dames hulself beskikbaar moet stel vir opnames op die boer se plaas (wat ‘n week mag duur) wanneer dit die vervaardigers se skedule pas en hulle sal van tyd tot tyd bereid moet wees om vir opnames (wat ‘n paar dae mag duur) weg van die huis af te reis. Opnames word in Kaapstad beplan om verskeie afsprake af te neem wat jy met die boer van jou keuse moet nakom.
Indien jy inskryf, verklaar jy die volgende:
-
Jy is 'n Suid Afrikaanse burger.
-
Jy aanvaar dat die reëls en bepalings van "Boer Soek ‘n Vrou 18" (die program) soos van tyd tot tyd neergelê sal word deur Wolflight
Films (die "vervaardiger") en/of kykNET (die "uitsaaier") bindend is en jy aanvaar dat die besluite van die vervaardiger/uitsaaier finaal is.
-
Jy aanvaar dat jou regte in terme van die Kopieregwet, wet 98 van 1978 (soos gewysig), toegewys word aan die vervaardiger/uitsaaier en dat jou volle deelname aan die program opgeneem en uitgesaai mag word en dat die regte op hierdie uitsendings in die toekoms aan die vervaardiger/uitsaaier behoort, wat jou toewysing aanvaar.
-
Jy verklaar dat al die inligting wat in jou aansoekvorm verskaf is, waar en korrek is en jy aanvaar dat jy gediskwalifiseer kan word as die teendeel blyk en dat die vervaardiger en/of uitsaaier die inligting in jou aansoekvorm in die program mag gebruik.
-
Jy neem vrywillig deel aan die opname van "Boer Soek ‘n Vrou 18" en jy verstaan die aard van die program asook jou bydrae daartoe.
Jy is bewus van alle risiko’s wat aan die opnames verbonde is en jy vrywaar hiermee die vervaardiger/uitsaaier van enige eise, koste, skade of verlies wat mag voortspruit uit enige siekte of besering jy wat jy mag opdoen gedurende jou betrokkenheid by enige aspek van die program.